Thursday, November 6, 2008

Meer oor Annecke Redelinghuys ….inderdaad ’n seldsame talent



In die lig van jou blootstelling aan en van nuwe talent, sou ek myself nooit vergewe as jy nie meer weet van Annecke nie – na my mening is daar bitter min kunstenaars ( veral vroue) wat hul eie musiek skryf en uitvoer. Haar melodieë draai in ‘n mens se kop, en die lirieke is duidelik anders as wat algemeen die tendens is, veral in die Afrikaanse musiek milieu. Sy omskep die alledaagse in iets besonders en sommige van die beelde en emosies wat sy optower is so aangrypend dat mense vir wie ek haar demo CD speel dikwels so geroer raak dat hulle skoon hartseer word….dit wys my dat ek nie subjektief na die musiek luister nie en ek hoop jy kan ook in die vreugde van hierdie seldsame talent deel. Gemeet aan die talent van ander Afrikaanse vroue kunstenaars en jou ondervinding in die bedryf, dink ek beslis dat sy ook deur jou as uniek ervaar sal word.

Hiermee dan ‘n beskrywing van die musiek wat sy skep in ‘n “write-up” wat miskien nie formeel en tegnies is nie, maar beslis vir jou ‘n gevoel van haar musiek sal gee, alhoewel jy die intensiteit net kan beleef as jy dit self hoor.

Meer oor Annecke Redelinghuys ….inderdaad ’n seldsame talent

Met haar passie vir die Afrikaanse taal as medium om emosie en kleurryke beelde oor te dra, laat Annecke Redelinghuys jou hoendervleis kry met haar besondere inslag en kombinasie van melodie en liriek wat jou heel anders na die alledaagse laat kyk. Haar musiek wat sy self skryf en opvoer spreek reg tot jou siel, en haar meesleurende stem weef ‘n tappeserie van beeld, kleur, geur en droom in stories wat jou ‘n leeftyd sal bybly.
Haar eerste CD is getiteld “Dejavu”.

Sy neem jou op reis deur die woestynwêreld van Namibië sodat jy die beelde voor jou sien afspeel en die dor wind teen jou voel aanwaai; jy ervaar die verlies van ‘n verhouding waar die gees van die geliefde lankal reeds die huis verlaat het, jy voel hoe sy oë jou miskyk en net sy lyf nog skadu’s teen die mure gooi; jy lag saam met die ironiese en humoristiese sinnebeeld van ‘n swart kat as metafoor van jou gewete; sien die jeug in die gisters van ‘n geliefde ouma wat voor jou oud word; beleef die hartstog van ‘n liefde wat soos water tussen jou vingers uitsyfer al klou jy dit hoe styf vas; kry hoop in die belewenis van ‘n kind se ontdekkingswêreld en sien beelde en stories van mense voor jou afspeel in ‘n huis wat lank reeds verlate en verweer bly staan het.…..

As jy wil beleef en leef in plaas van net wees, luister en voel jy hierdie musiek wat jou heel anders oor Afrikaanse musiek sal laat dink – moeilik om te glo dat hierdie dinamiese vrou wat ‘n spesialis konsultant by die land se mees toonaangewende mediese versekeraar is, ook tyd vind in haar besige skedule om haar talent uit te leef. Haar besondere talent word aangevul deur ‘n sterk intellektuele agtergrond, ‘n unieke en verbeeldingryke inslag en ‘n sofistikasie wat inherent deel van haar intuïtiewe menswees is. ‘n Intense belewing van die lewe en wel beresenheid wat die top van Kilamanjaro, ‘n pelgrimstog na Tibet, ‘n nag alleen onder die sterre in ‘n Egiptiese woestyn en selfs die sonopkoms op berg Sinaï insluit vertel jou meer van hierdie merkwaardige Afrikaanse kunstenaar.

Haar mees bekende liedjie “Dwergieman” is deur Matthys uitgevoer en “Lyf” (wat deur Matthys Roets opgeneem is), asook ‘n verstommende repertoire van onvergeetlike liedjies deur haar geskryf wat jou nie onaangeraak sal laat nie, en jou inderdaad ‘n leeftyd sal bybly.

Annecke het onlangs ook ‘n produksie geskryf, getiteld “Kaalvoetreis” waartydens sy jou neem op ‘n reis deur die delicate siel van die vrou. Sy het al die musiek self geskryf en kombineer die musiekreis gedigte en voorlesing.

Vir meer inligting t.o.v. die bespreking van opvoerings en konserte, skakel gerus die volgende nommer: 0829090994

No comments: