Thursday, November 6, 2008

SWART KAT

In verlate stede se verlate strate
Sluip ‘n heks se swart kat rond
So lui die legende - een-ooq en ‘n mank poot
Draai sy swart stert om jou lyf..
Agter slot en grendel kruip die mense weg
Toe gordyn en venster laat hul veilig voel
Maar niemand weet die kat
Kan deur die mure sien..

In verlate hoekies van verlate stegies
sluip ‘n Heks se swart kat rond
Hy toor jou met sy een-oog –
roep jou met sy mank-poot
draai sy swart stert om jou lyf...
Dis maar iets waarvan ’n vreemdeling min verstaan
Die kat se oral saamstap laat hom veilig voel
Maar niemand weet die kat
Kan deur die mense sien..

In verlate harte van verweerde menswees
Sluip ‘n Heks se swart kat rond
Sy naam is jou gewete - om-en-om teenwoordiq
draai sy swart stert om jou hart...
Agter valse maskers kruip die mense weg
Toegeknoopte siele laat hul veilig voel
Maar niemand weet die kat
sit binne in jou hart..

Dis elke nag se storie

Ewig sonder einde
So sluip die heks se swart kat rond…

No comments: