Thursday, November 6, 2008

Stofpad langs die Maan

As jy dan weg is
hoekom hoor ek nog jou stem om my rond?
Hoekom sien ek jou staan
in die stofpad langs die maan?

Want jy’s die skadu
op ‘n wiegstoel in ‘n hoekie van my hart
my Icarus -met woorde van was
gegiet in onthou - wat smelt sonder jou…

Ek wens jy kon
vir altyd by my bly,
my halwe vlerke weef
en my laat sweef – tot naby jou…
Ek wens ek kon
nog een keer aan jou raak –
nog een belofte maak,
‘n woordelose stilte stom versaak…

Dis net jou spieelbeeld
Wat in eenvoud groei
Tot vol simfonie
Dis net note in naam
Wat net ons twee verstaan


Want jy’s die skadu
op ‘n wiegstoel in ‘n hoekie van my hart
my Icarus -met woorde van was
gegiet in onthou - wat smelt sonder jou…

Ek wens jy kon
vir altyd by my bly
my leer hoe word mens vry
jou naam in seesand skryf
my daarmee doop…
Ek wens ek kon
vir oulaas aan jou raak
die hemel oop laat kraak
en weer kon sien hoe lyk
jy sonder kwaad.

As jy dan weg is
hoekom hoor ek nog jou stem om my rond?
Hoekom sien ek jou staan
in die stofpad langs die maan?

Ek wens ons kon –
Vir altyd drome leef
Verborge skuld vergeef
En deel in ewig-wees…
Annecke Redelinghuys

No comments: